Akademie

Laerskool Rayton beskik oor hoogs gekwalifiseerde en gemotiveerde personeel. Die CAPS-kurrikulum word op ‘n oorspronklike wyse, met sorg dat basiese vaardighede goed vasgelê word, geïmplementeer. Leerders se vaardighede word in die geheel ontwikkel, met uitgebreide geleenthede om spesifieke talente te ontgin en te groei en ook erkenning daarvoor te kry. Deurlopende assessering sorg dat enige probleemarea binne ‘n kort tyd geïdentifiseer word en dat hulpverlening dadelik gegee kan word. Ons is trots daarop dat ons Akademiese merietefunksies aan die einde van die jaar, erkenning aan elke Raytie gee.

‘n Skool se akademie is die een aspek wat die grootste verskil in ‘n kind se toekoms kan maak. Dit is daarom belangrik dat die akademie bydra tot die skep van ‘n positiewe selfbeeld by die kind. Vir hierdie doel word opgeleide, toegeruste personeel benodig wat nog die kind agter die “leerder” raaksien en die individualiteit van die kind erken, terwyl hy/sy begelei word om optimaal te ontwikkel en ‘n passie te kweek vir dit waarin hy/sy uitblink.

‘n Klein bietjie meer aandag aan akademiese werk op laerskoolvlak kan leerders ontwikkel wat ‘n beduidende verskil maak in die wêreld wanneer hulle moet leiding neem as volwassenes. Hiervan getuig suksesvolle oud-leerders wat keer-op-keer weer terugkeer na Laerskool Rayton as ouers en selfs grootouers om die ontwikkeling van húlle kinders en kleinkinders gade te slaan.

Leerders word bemagtig ten opsigte van die volgende:

  • Identifiseer en los probleme op en neem besluite deur kritiese en kreatiewe denke
  • Werk doeltreffend saam met ander as lede van ‘n span, groep, organisasie en gemeenskap
  • Organiseer en bestuur hulself en hulle aktiwiteite verantwoordelik en doeltreffend
  • Versamel, ontleed en organiseer inligting en evalueer dit krities
  • Kommunikeer doeltreffend deur middel van visuele, simboliese en / of taalvaardighede in verskillende vorms
  • Gebruik wetenskap en tegnologie doeltreffend en krities deur verantwoordelikheid teenoor die omgewing en die gesondheid van ander te toon
  • Begryp die wêreld as ‘n stel verwante stelsels waarin probleme nie in isolasie opgelos word nie

Hulpverlening:

Akademiese hulpverlening vind op verskeie maniere plaas. Elke middag vanaf 14:00 tot 14:45 word individuele hulp aan leerders verleen. In die Grondslagfase sal ouers deur middel van die huiswerkboek of per brief in kennis gestel word dat ‘n leerder uitgenooi word na so ‘n sessie. Daar sal ook aangeteken word dat leerders so sessie bygewoon het. Leerders wat probleme ervaar kan ook die ekstra klasse bywoon. Die klas is gratis.

By die Intersenfase word dieselfde prosedure gevolg. Ouers sal in kennis gestel word dat leerders versoek word om ‘n bepaalde klas by te woon. Dit word dan ook so aangeteken, indien leerders dit bywoon. Indien intervensie benodig word, sal ‘n onderhoud met ouers plaasvind en nadat die regte prosedure gevolg is, sal die leerder verwys word soos nodig.

Die skool beskik oor ‘n hulpklas waar Mev. Denise Steenkamp een keer ‘n week hulp aan leerders van die Grondslagfase verleen waar nodig in Afrikaans as huistaal.

Rayties leer sodat hulle kan presteer!

Onthou: Onderwys is die paspoort na jou toekoms, want môre behoort aan diegene wat VANDAG daarvoor voorberei.